Friday, February 17, 2017

Pyn-in-de-gat ...

... of anders gestel, 'n tipe "zaalseer" wat mens kry as jy te veel fietsry in Nederland. Aan die woord was Christina Landman  in gesprek met Conny Braam, eertydse Voorsitster van die Nederlandse Anti-Apartheidsbeweging, gedurende haar besoek aan Suid-Afrika.

Wat 'n besonderse voorreg was dit nie om so bietjie van 'n blik agter die skerms te kry oor lang ampervergete (?) gebeure in ons geskiedenis. Conny het kom gesels en ons vertel van die dag toe Mandela vrygelaat is. Hoe Dam Square ontplof het met vreugde, hoe sy Suid-Afrika nou ervaar en haar boek "Ik ben Hendrik Witbooi".




Pops Mohamed en Cesare Cassarino het die gehoor betower met hul gepaste 'Feelings Beyond". Die musiek het 'n rustigheid oor die aand gebring alvorens Attie van Nel die groot 'stirmeester" en skrywer Deon Maas onder die loep geneem het. 




Guitige spitsvondigheid en humor was aan die orde van die aand. Die kunstefees-kerk-bruinmens-Zupta koeie se melkemmers is behoorlik rond geskop en hier en daar het 'n slagting van grondkwessies, mans en hul penisse en Afrikaanse kultuur Deon laat bontstaan om sin te gee aan sy skrywe. 'n Gemoedelike lekkerlag gebeurtenis met passievolle mense en 'n oopkop gehoor. 

Dit was lekker om skertsend, maar tog in ernstige trant 'n paar issues uit ander hoeke te bepraat. Almal was dit eens dat die smaail-innie-mou-kuierpittighede hier midweek 'n tonikum was ... en Deon Maas is eintlik 'n diep seun met passie vir sy taal en mense... beslis nie die "doos van Idols" (sy woorde) wat so met die volk se koppe gesmokkel het nie. Doet zo voort Deon! Suid-Afrika het jou anderskyk bitter nodig.




Dankie Christina, Conny, Attie, Deon en almal wat saam gekuier het. Ons maak weer so. Dis nodig dat ons meer oop gesprekke het. En natuurlik die musiek vir liggaam en gees! Pops jy's my gunsteling ikoon. Dankie ook Cesare! Sommer binnekort ja, dan maak ons weer so! 


"Ek wens dat Suid-Afrikaners kan leer om met mekaar te praat en nie met mekaar te baklei nie" 
- Deon Maas in Melk die Heilige Koeie

"Zaalseer"is 'n onnodige emosie...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.